Toevallige Hoenderboer

Op dié hoenderplaas word die hoenders “Skattebol” of “Sussie” genoem en wanneer ‘n paar henne in die wingerd gaan skrop, gee dit nuwe betekenis aan die term ‘vrylopend’. 

 

“Ons wil die lewe vir die hoenders op die plaas so goed as moonlik maak. Kommersiële Free range produsente druk vir produksie, en nie vir gehalte of dit wat goed is vir die hoender nie. Ons glo daarin om die hoenders gesonde kos te voer, sodat ons gesond kan eet en gesond kan wees,” vertel Charl Smith, eienaar van Winelands Free Range Chickens, terwyl hy tussen sy hoenders deurstap. 

“Kom, Sussie,” por hy ‘n hen aan voor hy verder praat. Hy wys ook na ‘n paar hennetjies wat in die nabygeleë wingerd skrop. 

“Die bedryf se riglyne oor vrylopende hoenders sê jy mag 15 braaikuikens per vierkante meter aanhou. Ons hou net sewe aan. Ek glo die hoenders moet buite kan loop, glad nie ingeperk word nie, geen hormone of antibiotika word gebruik nie en die vleis moenie met soutwater ingespuit word nie. Verder wil ek hê my hoenders se dieet moet so natuurlik as moontlik wees.”

Die beste voorbeeld van die liefde tussen mens en hoender, sien mens as Bradley Pietersen, Charl se regterhand, ‘n hen optel en liefderik sus sodat sy kan rustig word vir ‘n foto. 

“Toe maar, skattebol,” fluister hy in haar oor. Toe hy sien ons lag, sê hy: “Elkeen het ‘n naampie, al is hulle dieselfde. Hulle is meer as diere, daarom praat ek met hulle. En al praat hulle nie terug nie, geniet hulle die liefde en aandag.”

Charl het op die wingerdplaas Groot Eiland naby Rawsonville grootgeword, maar sy hart was nie in wingerdboerdery nie. Toe besef hy daar is ‘n groot vraag na vrylopende hoendervleis en eiers. 

“Ek was nog altyd lief vir diere en ons het maar altyd hoenders gehad. Ek het nooit in my wildste drome gedink ek sou met hoenders boer nie, maar daar is ‘n massiewe mark vir vrylopende produkte. Almal leef deesdae meer gesond en vrylopende hoenders se vleis en eiers ís meer voedsaam.” 

Hy het in 2015 sy eerste Cobbs aangeskaf en vandag slag hy sowat 4000 per maand. 

“Dis die enigste vleishoender in Suid-Afrika. Die ras is geteel om teen 32 dae oud slaggewig te bereik. Maar ons slag eers op 50 dae, want ons glo nie daaraan om die hoenders te dwing om te vreet nie.” Hy slag hoenders van tussen 1,6 kg en 3 kg en versprei dit aan restaurante, deli’s, markte, padstalle en lewer ook op bestelling by sowat 600 klante se voordeur af. Die hoenders word op Worcester geslag, en Charl doen self verdere verwerking, soos om dy-sosaties, cordon bleues, pasteie en schnitzels te maak. 

“Ons verskaf dit soos die klante dit wil hê.”

Dit sit nie in enigeen se broek om met braaikuikens te boer nie, sê hy. Hulle raak maklik siek en moet dus nougeset bestuur word. 

“Aangesien ons nie glo in antibiotika nie, sal ons ‘n hennetjie wat mank loop of ‘n braaikuiken wat olik lyk eenkant toe vat en behandel met ‘n mineraal- of vitamienaanvulling, maar ons opsies is beperk.  Gelukkig bevat natuurlike kos, soos hidroponiese gars, Swart soldaat vlieg larwes en natuurlike goggas en grasse al die voedingstowwe, probiotikas en minerale wat ‘n hoender nodig het, daarom raak hulle minder siek.”

Soos sy mark vir hoendervleis gegroei het, het hy besef daar is ‘n vraag vir eiers ook. Vandaar die Lohmann-Brown-lêhenne. Hy glo die eier-kant van sy besigheid gaan vorentoe net groei. 

Charl het dalk nie gedink hy sou ‘n hoenderboer word nie, maar hy is baie gelukkig met sy besluit.

“Die lekkerste is om met ‘n produk te boer wat mense waardeer en nie aldag in winkels kan kry nie. Ek kry baie satisfaksie as mense my produkte koop en eet.”

 

Wheat Farmer’s Story
How to make the change